Dankbaar vir saamwees

Wat is die ergste wat kan gebeur? Vra ek myself dikwels af.  Ek onthou, dat selfs van kindsbeen af, was ek iemand wat die berg agter die molshoop kan gaan haal.  Ek kon myself onnodig bekommer oor niks.  Al is ek 80% ‘n positiewe mens, kan ek myself sonder moeite in ‘n fiktiewe negatiewe situasie plaas. Is my wynglas half leeg of half vol? Vir my is hy albei!

Veral in 2020 was my glas baie dikwels half leeg en nie half vol nie. Letterlik en figuurlik. Ek moet eerlik erken dat ek daardie eienskap 100% van my pa geeerf het. ‘n Goeie mens soos wat my vader is, sal hy self erken dat hy ‘n topgehalte stresser is en tot vandag nog nie gerehabiliteer is nie. Selfs ná aftrede.  Ek onthou as kind dat my pa bitter vinnig angsbevange kon word, vir enige situasie, klein of groot. Net om te braai was stresvol, want die kole gaan te vinnig koud word. En die vleis mag dalk taai wees en ons moet nou onmiddelik eet, want die kos word koud. En o jinne die wolke trek saam, hier gaan nou ‘n donderstorm losbreek. ‘n Onnodige stresvolle situasie, wat eintlik net ‘n spanninglose geselligheid moes wees.

Selfs ontspanning en vakansietye was vir my pa stresvol. Wel, so het ek dit ervaar as kind. Om die karavaan gepak te kry was problematies. Om op tyd weg te trek, was nooit moontlik nie en ‘n groot kopseer want hy wou nooit in die donker by ons vakansie destinasie aan kom nie, dit alles het stres versoorsaak. Al die pad soontoe stres my pa of ons ‘n ideale staanplek vir die karavaan gaan kry. Wat as al die goeie staanplekke reeds geneem is? Daar aangekom is sy grootste vrees gewoonlik bevestig, dan moet ons met die swakste staanplek, (volgens hom) tevrede wees. Om die karavaan af te hak en die tent op te slaan was die volgende stresvolle hindernis.  Dis asof nie een van die ander lede van ons gesin kon insien hoe my pa die karavaan wou draai nie. Die kant toe, dan daai kant toe, nee ander kant toe! Spanning! My ma moes net altyd die vrede bewaar. Teen die die tyd wanneer ons afgepak was en die tent uiteindelik opgeslaan is, was my pa al skuins voor ‘n ineenstorting. Dan bid ek net daar is ‘n bad oop wanneer hy met sy bruin vanity tassie, ablusieblokke toe stap om te gaan bad. Hy sal nie die teleurstelling van ‘n oorvol ablusieblok op daardie oomblik kon hanteer nie. En weet enig iemand waar is die badprop en die Dettol!? Dis hoe ek karavaanvakansies onthou. My pa wat stres en dan slaap hy die res van die tyd om van die stres ontslae te raak. En net sodra hy uitgerus en stresloos wakker geraas word deur ons 4 kinders wat ook probeer om ons vakansie te geniet, dan is dit weer tyd om die vuur aan te steek om te braai en dan begin alles stres weer van voor af opbou want wat van as die kole te vinnig koud word en die vleis taai is.

Dalk is dit die natuur van die mensdom om so baie te stres of dalk is dit die haastige samelewing wat ons so angstig maak? Ek weet nie, maar wanneer ek weer na my moeder kyk is dit totaal anders. Sy leef amper stresvry.  Sy bekommer haarself nie oor iets voordat die probleem haar reg in die oē staar nie. Ek onthou sy’t altyd vir ons as kinders gesê, moenie jouself nou reeds bekommer oor iets wat dalk eers more verkeerd kan gaan nie. “Worry eers more!”  Aan die een kant sal mens redeneer dat  dit dalk beter is om jouself lank voor die tyd voor te berei vir die negatiewe wat mag plaasvind, maar aan die anderkant is dit soms so onnodig om jouself reeds te bekommer oor iets wat dalk net ‘n 50% kans het om te gebeur. Hoe dit ookal sy, ek is hulle bloedkind en daarom het ek (nie uit eie keuse nie) 50% van my pa se stresgene geeerf en 50% van my ma se “dit-help-nie-om-nou-al-teworry-nie” geen.

Dit bring ‘n gedurige toutrekkery tussen die twee pole in my lewe.  Die een oomblik sien ek die afgrond, ek twyfel, ek bekommer myself dood, ek slaap nie en voel naar, ek visualiseer die ergste wat kan gebeur, presies soos my pa… en dan sonder dat ek weet hoe dit gebeur het, sien ek  weer die lig. Dan dans ek soos my ma met ‘n glimlag en druk die afgrond ‘n pit.  Die een oomblik stres ek myself dood oor iets negatiefs wat dalk kan gebeur en die volgende oomblik worry ek glad nie.

Soos ek hier sit en skryf berei ek myself voor vir die ergste, want moreoggend 4uur vertrek my ma en pa uit die Vrystaat om vir ons te kom kuier vir die eerste keer vandat ons in die Kaap woon. My ma sê my pa stres al van gister af dat hy net genoeg slaap sal inkry voordat hulle die langpad aandurf, want die pad Kaap toe is darem vrek ver en hy hoop net hulle het alles gepak en niks vergeet nie.  En hy stres oor hoeveel trokke op die pad gaan wees en of die pad te besig gaan wees, want eintlik kan hul nie regtig stop langs die pad as hy moeg word nie, want dis lewensgevaarlik agv Covid 19 en op sy ouderdom sal hy nooit oorleef as hy nou die virus moet optel nie en wat as Cyril Ramaphosa die strande weer toemaak, maar dalk is dit beter, want mense volg mos nie die reēls nie sê hy en hy hoop net nie die petrolpryse styg in die volgende twee weke nie, want hoe gaan hulle weer terug kom by die huis as die petrol skielik te duur is en hy hoop mens kry droē hout in die Kaap, want hoe braai mens met nat hout en wat as die wind heeldag waai, wat doen mens dan?

Ek dank net die Here ons gaan nie kamp met ‘n karavaan nie! Dink ek. Nog een tent opslaan saam met my pa sou die einde beteken.

Nie ek of my pa se senuwees sal dit oorleef nie.

My ma lag net. Sy kan nie wag nie. Sy sien al so lank al uit om te kom kuier in die Kaap, al moes sy kaalvoet deur die Karoo loop, sal niks of niemand haar keer om hierdie vakansie by ons in die Kaap te kom kuier nie. Sy stres oor niks. As die wind waai dan kuier ons lekker by die huis of ry êrens heen en as dit ‘n mooi, sonskyn dag is, vat ons al die kinders strand toe en as Cyril Ramaphosa die strande sluit, dan gaan stap ons in die berg en ons geniet net die tyd saam met mekaar.

My ma se laggende stem en my pa wat bereid is om die langpad Kaap toe aan te durf,  het my laat besef dat hierdie Desember vakansie een van die belangrikste vakansies nog sal wees vir samesyn. Vir families om bymekaar te wees. Om ‘n ongelooflike, onaangename, verwoestende 2020 af te sluit in die naam van liefde en familie. Saamwees. Saam lag. Saam sing. Saam bid. Saam eet.  Die grootste deel van hierdie jaar was families in meeste gevalle verpligtend geskei van mekaar. Ouers wat planne gehad het om vir hul kinders in Australie of NZL te gaan kuier, maar nie kon nie weens die epidemie. Selfs van een provinsie na ‘n ander. Maande lank was daar net die hunkering na mekaar. Kinders het na hul ouers verlang en ouers na hul kinders.

En dit het my laat besef dat hierdie Feesseisoen is belangriker en meer spesiaal as ooit. Saamwees.

So, hier waar ek sit en skryf het ek ‘n besluit geneem dat my wynglas, hierdie feestyd heeltyd vol gaan wees.  Nie net halfvol nie, maar propvol. Letterlik en figuurlik. Ek gaan almal se geite hanteer en aanvaar. Selfs my eie.  My pa hoef nie te braai nie, hy kan net eet. Hy hoef nie te bestuur nie, hy kan net saamry. Wanneer hy wil rus, kan hy gaan lê en as hy wil stres is dit ook fine… Elke ou moet net homself wees, maar die belangrikste is om saam te wees.

More gaan ek droē hout soek. Genoeg. En wyn. Genoeg. En ek gaan vir elkeen ‘n geskenkie koop. Niks groots of uitspattig nie, net ietsie wat sê dat ek hulle lief het net soos hulle is, kom wat wil, ‘n lockdown,‘n virus, hoogtepunte en laagtepunte, val en weer opstaan, ons as familie moet dankbaar wees vir die tye wat ons saam kan wees. As 2020 my iets kon leer is dit dit… Saamwees is ‘n voorreg. En soms kom dit saam met ‘n bietjie stres, maar ons almal is net mense.

Dankie vir al die koppies tee wat julle die jaar saam met my gedrink het! Volgende jaar gaan ons groot… Liefde!

ONLANGS

Vroeg uit die vere
Tuinmaak is nie vir sissies nie
Spaarvarkies
My huis is waar my hart is
Geel
Funky onderbroeke en gekleurde kouse
Die Groot Trek
Die geboorte van verandering
Day Zero
Dankbaar vir saamwees