Dit was ‘n Saterdagoggend so 3 weke gelede. Daar het ‘n fris bui reën die vorige (vroeg) aand oor die Helderberge uitgestort en oordat dit so láát donker word in die Kaap, kon ek die reën sien dans oor die hele Valsbaai. Die volgende oggend was Somerset-Wes nat en koel. Die lug was kraakvars, helder blou, asof dit skoon gewas is deur ‘n stort van reën. Nie lank terug nie, was die grootste vrees Day Zero in die Kaap. Die aanhoudende droogte en die vrees dat die krane gaan opdroog. Om te dink daar was ‘n DAY ZERO! ‘n Dag wat daar net geen water meer oor sou wees vir huishoudelike gebruik nie. ‘n Dag van niks meer nie.
Vir ‘n oomblik dink ek terug aan daardie onsekere tyd. Op daardie stadium het ons nog in Pretoria gewoon, maar dit was elke dag in die nuus en die hele land het gebid vir reën en gehelp met waterbesparing, dit was ‘n vreesaanjaende tyd in die Kaap. Ek is dankbaar dat die groot waterkrisis in die Kaap en Covid 19 nie op dieselfde tyd gekom het nie. Kan jy jouself indink, krisis op krisis.
Gedurende die lockdown het ek al ‘n paar day zero’s sien aankom. Wat as die geld klaar is? Wat as die kos opgeëet is? Dis vreesbevange. Dis wakkerlê nagte. Dis rond rol. Baie min mense het ‘n onuitputbare bron van geld. In tye van oorloë en siektes maak mense blikkies kos bymekaar, maar jy kan nie jou huis en motorkarpaaimente met blikkies kos betaal nie. Min mense het so baie reserwes en min mense het die visie om te spaar vir “eendag as”.
Na 2020 is baie mense se lewens net holderstebolder.
Die enigste opsie is oorbegin, stukke optel, wonde lek en vorentoe kyk, maar oorbegin kom nie oornag nie.
Dis ‘n tydsame proses. En jy moet hope energie hê en geloof en… water! Day Zero! Day Zero het ‘n mens deur ‘n totaal ander bril laat kyk na lopende water. Vandag as ek sien dat water gemors word, kan ek dit aan my lyf voel. Dit ontstel my. Dit krap my om, dit maak my hartseer, want Day Zero het my geleer.
As ‘n mens in die toekoms kon sien, wonder ek hoe anders ‘n mens die lewe sou aanpak. Dalk sou dinge wat jou pla, jou nie meer pla nie en dalk sal dit wat onbelangrik lyk, vir jou baie belangrik word… wie weet? Dalk sou ons geld en kos weggesit het vir die dag van more en dalk sou ons water soos wyn hanteer het. Ek sê steeds elke dag vir myself dat die lewe verbygaan en dat elke verby-dag, ‘n dag is wat ek nooit weer kan terugkry nie… en tog is ‘n mens non-chalant oor jou tyd… jou gesondheid… jou talente… jou kos en jou water.
Soos wat ek my seuntjie groet by die tennisbane en terugry huistoe, hang die reëndruppels soos druiwetrosse aan die bome se blare. Hier en daar vang die son ‘n druppel en dit weerkaats soos klein reënbogies in die lug. Goeiste maar Somerset-Wes is mooi, dink ek.
Dis nog vroeg en daar is geen ander motors wat verby jaag nie. Dis Saterdagoggend. Hier en daar sien jy iemand ‘n venster oopmaak. Verder is dit net ek en my gedagtes… die reënbogies, die berge en sommer net ‘n innerlike hartlike gevoel binne my. Dis kosbaar, want die laaste jaar was daar al baie day zero’s wat my reënbogies gesteel het.
Terwyl ek so half “happy” huistoe ry, heg my siel ‘n gevoel van herinnering aan hierdie oomblik. Dis ‘n nostalgiese herinnering. My gedagtes swerf. Skielik vat die klam aarde my êrens heen. Dit voel soos ‘n gevoel wat ek in Oudtshoorn by die KKNK ervaar het.
Al reën dit nie gewoonlik so baie in die Klein Karoo nie, is daar altyd een spesifieke dag waar daar ‘n donderstorm uitbreek oor die KKNK. Dan sous dit. Een jaar moes ek in die middel van my konsert stop, want ‘n storm het losgebars. Kragloos vir ‘n uur. Water het geloop! Dit was chaos. Geen Day Zero in sig.
Die volgende oggend, 7uur, toe is dit al amper weer 30 grade Celsius. Kraakvars, blou lig…presies soos vanoggend in Somerset-Wes. My gedagtes sweef terug na die KKNK. Die volgende oggend na die donderstorm van die vorige aand, het ek ‘n 11uur-oggend konsert gehad. Ek staan vroeg op om ‘n ontbyt te gaan eet in die dorp, sodat ek nie op ‘n leë maag die konsert hoef te doen nie. Soos wat ek deur Oudtshoorn se strate stap, soekend na die regte ontbytplekkie, kry ek presies dieselfde gevoel as wat ek vanoggend in Somerset-Wes gekry het. Die lug is kraakvars. Ek ruik die vorige nag se reëns. Ek ruik nat saagsels. Absoluut fantasties. Die strate is nog doodstil. Net hier en daar word ‘n feesganger wakker. In die teaters, skool en kerksale is akteurs, sangers en technici alreeds besig om klanktoetse te doen vir die dag se konserte. Stadig word die kunstefees wakker. Reg vir nog ‘n opwindende dag van kuns en kultuur en konserte.
Geen Day Zero in die oog. Geen einde, net ‘n nuwe dag, ‘n nuwe begin. Ek mis dit. Besef ek skielik soos ‘n groot hongerte.
Hier waar ek ry deur Somerset-Wes se strate… mis ek dit. Ek ruik dit in die bome en ek voel dit in die pad. Net soos wat Day Zero my geleer het om water te respekteer, so leer Covid 19 my van baie dinge. En nou weer oor die kunstefeeste.
Die bloeiplek van die kunste, die huis van my taal, die veilige vesting van my kultuur… dit alles was by ons kunstefeeste. Dis dáár waar ‘n sanger sy nuwe liedjies uittoets. Dis dáár waar van die grootste dramastukke in Afrikaans lewe kry, waar kunstenaars hulle skeppings, hul beelde en hul visie deel met die wêreld. Dit is dáár waar jy die mensdom met woorde kan verander. Dis by kunstefeeste waar ons legendes soos Anna-Mart van der Merwe en Sandra Prinsloo en Marius Weyers en Antoinette Kellerman op die verhoog sien sweet. Waar Amanda Strydom ons wegvoer na ‘n ander plek. Waar Johannes Kerkorrel jaar na jaar voor die klavier ingeskuif het. Ek onthou dit so goed!
Ek onthou hoe ek by KKNK in 2002 my eerste konsert gedoen het, met 10 mense in die gehoor, maar ek was daar, jonk en onervare en ek kon my stories vertel. Ek onthou hoe ek gevoel het toe ek jare gelede vir Nicola Hannekom in Altyd Jonker gesien het. Dit was soos om Ingrid Jonker in lewende lywe te sien. Ek onthou die tonele wat buitekant Oudtshoorn op Volstruisplase afgespeel het, terwyl die son sak oor die Karoo en hoe dit skielik darem bitter vinnig krakend koud kan word. Ek onthou Dawid Minnaar in ‘n toneelstuk.
Ek onthou hoe dit voel om voor 33 000 mense op die verhoog te gaan by die Innibos-fees en ‘n Kos en Musiek konsert te doen saam met Niel Stemmet (wat oorlede is aan Covid-19). Ek onthou my spanning saam met Liz Meiring in die Sjokolade show.
Ek onthou Bloemfontein se koue en alles in die André Huguenot teater. Die stalletjies. Die pannekoek in Nelspruit, vir Stef Bos by Aardklop en vir Antjie Krog by die Woordfees in Stellenbosch. Ek kan ‘n boek skryf oor my herinnering van kunstefeeste.
Jaar na jaar was ek daar. Ek het gesing, ek het geleer, ek het gekyk. Ek het deel geword van ons kultuur. Ek het ‘n volronde, Suid-Afrikaner geword. Afrikaans het onlosmaakbaar deel geword van my siel. En al die mense, die restaurante, die skole en die kerke… ons het feesgevier!!! Geen Day Zero op die horizon.
Ek stop by ons huis nadat ek my kind by die tennis afgelaai het. Ek klim uit die motor. Ek wil nie nou al die gevoel wat ek ervaar laat gaan nie. Ek voel nostalgies, ek stap terug deur die hek. Ek loop in die straat af… ek sien ‘n eekhoring. Ek is mal oor eekhorings. Ek weet dat as ons verby Day Zero kan kom, sal ons weer teater toe kan gaan… ek glo dit… ek bid net dat die mense weer in hul hordes sal stroom, dat die sale sal vol sit… dat die drama’s uitverkoop is nog voor die fees. Ekstra konserte geskeduleer. Dat die borge steeds sal borg! Dat die stalletjie eienaars sal oorleef en dat die pannekoeke lekker soet opgerol lê in die grys waspapier. Ek hoop ons sal kan aangaan waar ons moes ophou!
Ek stap ver deur Somerset-Wes se strate. Ek geniet die nuwe dag, die son wat helder skyn. ‘n Warm dag. Ek stap verder en verder weg van ons huis af. Dis so bitter mooi hier in Somerset-Wes. Ek neurie ‘n liedjie in my kop, maar ek is steeds in Oudtshoorn en Nelspruit en Bloemfontein en Potchefstroom en Stellenbosch. Ek koop ‘n volstruis sosatie met my gedagtes en later ‘n kuduburger met my hart, dan gaan staan ek stil… in ‘n ry… ek gaan nou vir Laurika Rauch kyk. Live… en dan vir Pieter-Dirk Uys in ‘n toneelstuk… en dan gaan ek die kunsuitstalling besigtig van Diek Grobler.
Die eekhoring hardloop voor my voete verby.
Dan is ek skielik terug in Somerset Wes. Dis asemrowend. Het ek dit al gesê? Ek dink ek moet ‘n nuwe liedjie skryf… oor ‘n eekhoring in Somerset Wes. As mens in die toekoms kon insien, sou ‘n mens ook akkers wegbêre vir die wintertye, vir die swaar tye, sodat mens die Day Zero’s kan oorleef.
…Maar vir nou as ons net vasbyt, hopenlik een van die dae, met ‘n bietjie geluk en ‘n masker, ‘n storie en ‘n liedjie, sal ons die Covid 19 kan trotseer en gaan ons weer die tente opslaan en die ligte hang. Maar ons gaan almal moet hande vat! Simbolies gesproke natuurlik.
Ek voel skielik skoon opgewonde. Dis dalk die innerlike “happy” gevoel wat ek vanoggend beleef. Ek stap met nuwe moed terug huistoe. Ek gaan my vere afstof vir Oudtshoorn en dan gaan ek my nuwe liedjie skryf…
Want een van die dae sing ek dit…
uit volle bors…
soos die eerste keer!
So vandag drink ek ‘n koppie tee… op elke Kunstefees wat deur die jare ons taal en kultuur in hul arms vasgehou het. Op elke dorp wat die feesgangers ingelaat het. Op elke teater of saal wat die stories gehuisves het, elke lig wat ‘n kollig gemaak het op ‘n kunstenaar, elke stalletjie eienaar wat ‘n vibe geskep het en elke feesorganiseerder wat hul bes gegee het vir kuns en kultuur in Suid-Afrika.
En laaste, maar definitief nie die minste nie, inteendeel… ek drink ‘n sterk koppie tee op elke feesganger, wat ‘n kaartjie gekoop het, wat in ‘n ry staan om ‘n konsert te sien.
Sonder julle…
is dit net DAY ZERO!