Om te trek is nie vir sussies nie. Hulle beweer nie verniet dat naas die dood van ‘n geliefde, is die tweede grootste trauma om te trek nie.
2020 het baie uitdagings. Ek glo meeste mense is net in survivalmode. Party mense sou reken dat jy in tye soos hierdie waarin ons leef, dit veiliger is om geen groot besluite en veranderinge te neem nie, terwyl ander mense weer reken, dis juis die tyd vir totale verandering en kanse vat.
Dit sou interessant wees om te weet hoeveel mense in hierdie tyd van inperking en virusse en verliese en die skielike dood van die OU Normaal, wel ‘n totaal ander rigting ingeslaan het, noodgedwonge, maar ook uit eie keuse. Hoeveel mense het besef dat dit die guldige geleentheid is om hul lewens hand-omkeer te verander en hoeveel mense liewer vasklou aan dit wat hul het met die hoop dat alles weer sal wees soos met die ou normaal. Daar is nie ‘n reg of verkeerd nie.
Hoe dit ook al sy, elke keuse kos iets. En om te trek is ‘n groot besluit. Waar mens ook al woon, jy skiet wortels en wortels hou jou gegrond. ‘n Boom kan nie staan sonder wortels wat diep onder die aarde vasgroei nie, en vir amper alle mense is dit dieselfde prinsiep. Ek het al gehoor van mense wat gebore, getoē, getroud, geskei, ge-alles is in een dorp en in een huis. Dis moontlik ja, maar ‘n boom skiet reeds diep wortels in ‘n kort tydjie. ‘n Jaar. Twee jaar…3 jaar. Ons het 5 jaar in die huis gewoon in Hennopspark waaruit ons pas getrek het. My jongste seun is daar gebore. Ons het dit verander en geverf na ons smaak. My buurman sê hy het nog nooit iemand ‘n huis so baie sien verf in so kort tydjie nie (wel, veral nie in die binneland nie). Die huis was wit, toe later charcoal en toe lyk die charcoal vir my soos swart wat deur die son verblyk is en toe verf ek die huis SWART. My suster het gevra wat gaan die mense dink? Wie wil in ‘n swart huis woon? Hulle sal wonder of jul iets offer hier agter, het sy gelag, maar vir my was die groen gras so mooi teenoor die pikswart mure van die huis. Binnekant het ek die huis seker 10 keer verander. Van wit na hier en daar ‘n rooi muur, dan weer olyfgroen, dan weer wit. Daar was selfs ‘n geel muur en ‘n see-blou kombuis. My buurman het net sy kop geskud en gelag, maar vir my was dit fantasties. Ek wil elke ses maande verander. Ek weet nie hoekom nie. Ek is dalk familie van die akkedis spesie wat elke nou en dan uit sy vel groei. Eintlik besef ek nou, dis met alles in my lewe so. Behalwe my vrou, gelukkig. Ek wou haar al verf, maar net met heuning, sodat ek dit weer kan af eet. Waar’s my gedagtes nou hier waar ek sit?!
Elke mens groei sy wortels op ander maniere (excuse the pun). Ek verander die “look” van ons huis gereeld, ons het selfs ‘n tennisbaan gebou (my kinderdroom) en ja, dit mis ek die meeste. Ek en my oudste seun Jamie het elke dag tennis gespeel, die kinders het gedans op die baan, Michelle het geyoga (vir ‘n week). Dis ‘n leefstyl. En met elke druppel sweet op die baan groei jou wortels net nog dieper in die huis waar jy woon. Met elke braai saam met die bure en elke kinderpartytjie en oorslaap van maatjies en doeke omruil van baba’s en kosmaak en laat slaap en vroeg opstaan en tee drink en op die stoep sit en niks doen nie, groei ‘n mens so diep vas aan die stukkie aarde waar jy woon, dat dit traumaties is om te trek. Daarom is dit noodsaaklik om ‘n mens se huis, waar jy ookal woon, so lekker en so goed as moontlik te maak. Dis jou wortels. Dis jou plek waar jy jou wonde lek. Dis die plek waar jy jou kinders leer ken en jou vrou liefkoos. Dis jou stukkie aarde. As dinge moeilik raak by die werk, is jou huis jou veilige vesting. Die plek waar jy planne maak.
En dan gebeur daar dinge in mense se lewens wat veroorsaak dat jy moet trek. Om dalk net na ‘n groter huis te trek of af te skaal weens die feit dat kinders uit die huis is, of aftree op ‘n ander dorp. As jy na ‘n troufoto kyk, kan jy nog hoor hoe die gaste luidkeels sing “Kinders by dosyne.” En skielik is die huis leeg en die kinders groot. Baie mense kry werksgeleenthede iewers elders, maar na hierdie trek van ons Wes-Kaap toe, het ek opnuut deurnis vir mense wat Australie of NZ of buiteland toe moes trek. Ek glo eendag later kyk mens terug en hopenlik was dit ‘n goeie “move”, maar daardie oomblik wat jy jou mense moet groet, selfs die honde vir iemand anders moet gee as jy nie geld het om hul ten duurste saam te trek nie, dis alles traumaties. Nuwe land, nuwe taal, nuwe kultuur. Ek en Michelle het albei al in Engeland gewoon en sy ook in Amerika, maar ons was jonk. Sonder kinders. Sonder die verantwoordelikheid van ‘n 5, 9 en 10 jarige, wie ook wortels skiet.
Ek het nooit besef hoe erg dit vir my kinders gaan wees om te trek nie. Na een maand hier, is dit nou al beter, maar die eerste twee weke was die see, die son en die berge geen troos of plaasvervanger vir hul maatjies en hul kamers en hul wortels in Centurion nie. Ek en Michelle het moed ingepraat en verduidelik soos nog nooit vantevore nie. “Kyk hoe mooi is die berge uit jou kamervenster!” “Kyk hoe mooi is die diepblou see!” “Kom ons gaan akwarium toe.” Maar saans as ons gaan slaap is dit tranedal. Verlange. Wortels.
Ek het later begin dink, dat ek dalk ‘n fout gemaak het. Behalwe dat ek my kinders graag tussen berge en die see en die natuur wil grootmaak, is daar ook ander geleenthede vir my in die Wes-Kaap. Behalwe om te sing (wat altyd my eerste liefde, passie en loopbaan sal bly) is daar ook ander, meer kunssinnige geleenthede.
So, vir my was die jaar 2020 ‘n jaar van verandering. Ek moes wortels uittrek en op ‘n ander plek ‘n huis gaan verf. Ons is skaars hier en die huis het van grys na spierwit verander. Die geel beelde van ons huis in Centurion het ek saam getrek net om my te herinner van die lockdown tye in Hennopspark, Centurion. My geel stadium, my tuinmaak oomblikke.
Die dag toe ons treklorrie ons huis in Centurion opgelaai het, was ‘n tranedal. Ek het alleen Kaap toe gery en my gesin het nog 4 dae by ons wonderlike bure oorkant die pad gebly en toe eers gevlieg. Ek wou alleen die treklorrie ontvang in die Kaap en probeer om ‘n huis te skep voordat die kinders hier land. Groot drome, maar nie baie realisties nie.
Die dag toe die treklorrie in Kleinmond voor ons nuwe huis arriveer, toe staan ek en kyk hoe hulle ons ou lewe in Hennopspark, boks vir boks aflaai en ophoop in die nuwe huis. Ek dink my berekeninge was ietwat uit, want die huis was al oral vol bokse gestapel, toe die man bevestig, hulle is amper halfpad uitgelaai.
“Nou eers halfpad!?”
Hoe het al die goed in ons vorige huis ingepas en hoe op aarde gaan alles hier weer ‘n plekkie vind.
Toe die treklorrie wegry, toe sluit ek die deur agter my en bekyk ‘n huis van bokse. Opgestapel van bo na onder, elke kamer, elke vertrek, tot in die kombuis en in die badkamers. Jy kan nie eers by die toilet uitkom nie. Dis net bokse en plante en goeters!
Ek het lanklaas gehuil.
Waar begin ‘n mens?
“Boks vir boks.” Was my Pretoria buurman se raad.
CHAOS.
My vrou bel uit Pretoria. “Hoe lyk ons besittings in die nuwe huis?” vra sy effe opgewonde.
“Daar’s nie woorde nie.” Antwoord ek. “Ek dink dit gaan mooi lyk.” Stel ek haar gerus.
Nodeloos om te sê, was dit nie moontlik om vinnig genoeg ‘n perfekte huis te skep, hulle te blinddoek soos op ‘n Amerikaanse televisieprogram, en te sê…WELKOM by jul nuwe huis, nie. Inteendeel. Ek het hul eers na ‘n ander huis toe gevat. Vriende van ons. Ek kon dit nie oor my hart kry om die emosioneelbelaaide kinders, wat hul maatjies moes groet, die tennisbaan, die swembad, die perfekte lewe (volgens hulle) en hulle in hierdie chaos te laat instap nie. O ja…ek het vergeet om te noem…dat ek ‘n huis vir ons kom soek het, sonder dat Michelle of enige een van my gesin dit gesien het. Alles was ‘n verassing.
“Ons wil die huis sien!” het almal soos een man gesê in die bussie oppad terug van die Kaapstad se lughawe oor Sir Lowry’s pass oppad Kleinmond toe.
“Een van die dae!” was my antwoord.
Daardie aand toe die kinders aan die slaap raak by ons vriende, uitgeput van emosies, toe stap ek en Michelle alleen na ons nuwe huis toe.
“Surprise!” sluit ek die deur oop.
Michelle stap binne. Sy sukkel om verby ‘n paar bokse te loop.
Die beligting lyk fantasties. Ek het in 2 maande die huis oorgedoen.
Eers is sy stil. Sy bekyk alles om haar. Geen woorde. Stilte. Nog stilte.
“Hoor jy die see?” vra ek.
“Is dit die see?” vra sy.
“Ja” sê ek…. “klink amper soos die hoofweg in Centurion, nê?”
Stilte.
So bietjie beweging om die bokse heen.
Stilte.
Sit ‘n lig aan en af.
“Die ligte is mooi nê?” sê ek.
Stilte.
En toe lui die foon. Dis ‘n video call van ons bure in Hennopspark.
Die foon se lui breek die stilte ek skrik skoon.
Vir ‘n oomblik het ek gedink Michelle gaan nie antwoord nie…en toe antwoord sy.
Ek luister na haar stemtoon toe sy groet.
“Hallo!!!” groet sy met of trane of vreugde in haar stem. Ek kon nie mooi uitmaak nie, want die see was rof.
“Kyk ons nuwe huis!” draai sy die foon dat hulle kan sien. “Hier’s bietjie werk, maar dis baie nice!” sê sy.
Michelle het die bure deur ‘n toer op video call gevat, gegroet, haar arms om my nek gevou soos toe ons in ons twintigs was, my ‘n soen op die mond gegee…my in my oë gekyk en gesê…. “dankie vir ons nuwe huis, ek is mal daaroor.”
Ons het daardie aand by ons vriende oorgeslaap. Ek was lanklaas so moeg. Tot in my siel toe moeg.
Ons het die die volgende dag begin uitpak. Ons pak steeds uit, maar nêrens in die wêreld sal jy vriendeliker mense teëkom as in Kleinmond nie.
Vreemde mense kom stel hulself voor. Bring kos. Blomme. Ons het al twee koeke ontvang. Welkomkaartjies. ‘n Boks met eiers, brood, tee, suiker. Johan van die Blou Bakkie het al brood en botter kom aflaai. ‘‘n Man het al vir ons ‘n sleutel van die tennisbaan gegee. Die kantoortannie van die skool loop elke dag verby ons huis met ‘n jong, sterk pitbull terrier, wat haar vorentoe sleep, maar sy borrel oor van vriendelikheid en gasvryheid. Elke afgetrede dominee wat hier woon het al vir ons gebid, gelukkig nie kollekte kom vra nie, want na hierdie jaar is ek bankrot. Mense help met enigiets. Die oom van die tuindienste het kom gras plant en binnekort wilde proteas en speldkussingblomme. ‘n Ander oom het ‘n braai kom bou. Dis ‘n ongelooflike gemeenskap op hierdie dorp. ‘n Hemel op aarde vir afgetrede mense en vakansiegangers. Die gedagte het al by my opgekom of ons dalk ‘n paar jaar te jonk is. Ek weet nie, maar die mense is ONGELOOFLIK. Ek het ‘n paar nuwe vriende gemaak, dus geen te kort aan vaderfigure nie, maar soos ek sê, die mense is Ongelooflik.
Elke oggend stap ons langs die see. Michelle gooi ‘n skulpie in die golwe vir al ons vriende met ‘n gebed en ‘n koppie tee.
Die kinders huil nou net elke 4de dag, maar hulle geniet die strand. Hulle speel met hul maatjies oor die internet. Hoe die lewe verander het. Ek het ‘n liedjie 18 jaar gelede geskryf, Sally Williams Nougat…met die woorde…deur die internet kan ons tog kommunikeer. As ek maar toe geweet het hoe waar daardie woorde sou word.
Ons huis lyk al baie beter, en die gras se wortels lyk darem asof hul vat. Ek glo die huis gaan wit bly vir ‘n ruk. My klavier is nog in Pretoria, so ek skryf liedjies op my keybord. Ek glo die bure hoor my, want die paadjies is maar nou. Daar sit elke aand ‘n uil in ‘n boom in die erf langs ons. Ek hoop nie dis slegte nuus nie. Veral nie na 2020 nie. Maar die Hoe-Hoe is beeldskoon in die aand met die see in die agtergrond.
Die ander dag toe sit ons op die strand. Dis 12uur die oggend. Dis ‘n Dinsdag. Dis ‘n normale werksweek. My kinders doen lockdown learners by Hennopspark Laerskool tot einde van die jaar. Dis ‘n potblou, windstil dag by die see. Die kinders baljaar in die lagoon. Elvis, die hond speel te lekker op die wit sand. Hy verstaan ook nie sy nuwe vryheid nie. In Centurion het almal op hom gegil as hy by die hek uit hardloop. Ek sit op die strand en kyk om my. Die groen berge van Kleinmond. Die wilde proteas van ver af. Die fynbos. Die helder blou see. Die wit golwe. Die seeumeeus wat lawaai. Ek kyk om my. Ek sien alles wat mooi is, maar ek sien geen mense nie. Net ons. Net ons. Ek sê dit weer…net ons. Vir ‘n oomblik dink ek dat uit 7 biljoen mense oor die wêreld is dit net ons 5, plus Elvis, die hond wat nou op hierdie spierwit strand sit? Vir ‘n oomblik twyfel ek weer. Is ek nie dalk dood nie, want hierdie is gelukkig hemel. Is hierdie ‘n realistiese lewe vir ‘n man, sy vrou en drie kinders en ‘n hond? Drie kinders wat gewoond is aan tenniswedstryde, hokkiewedstryde, atletiek, revue, dans, winkels, skooltoere… Vir my is dit geen probleem om te vlieg en te reis na konserte toe nie, daaraan is ek gewoond, maar is die eenvoudige leefstyl, langs die see, in ‘n klein dorpie, ‘n realistiese opsie vir die spesifieke seisoen waarin ek en my gesin is? Ek het al gehoor van mense wat so swerf sonder niks, maar is ons nou wat hulle sal noem KINDERS VAN DIE WIND? Gaan my kinders nie gewoond raak aan die bubble en dan eendag hulself doodskrik vir die regte wêreld daarbuite nie? Om ‘n kunstenaar te wees bly maar kompleks. Jy dink te veel.
‘n Seemeeu sit so entjie van my af en maak geluide. Asof hy met my praat. “Bid altyd eerste.” het Ds Zelvin by Midrand Lewende woord my geleer. “Bid altyd eerste.” So nou bid ek…altyd eerste.
Ek kyk diep in die see in. Dis groot. So moeilik om myself voor te stel daarbuite is ‘n wêreld met Covid 19 en politieke leiers wat korrup is en ‘n Amerikaanse verkiessing en ‘n Donald Trump en ‘n Julius Malema. Wil die wêreld homself nie regruk as hy na die see kyk nie? Wonder ek.
So, hier is ons nou. In die Wes-Kaap. In Kleinmond. (vir nou) Die vriendelikste en mooiste dorpie by die see, maar is dit nie dalk te gou nie? Moet ons nie dalk 50km aanbeweeg na Somerset-Wes toe, waar die kinders kan dans, sing, tennisspeel, hokkie ens nie en as dit nou regtig moet is daar ‘n mall ook. Waar ek nader aan die lughawe is? Nader aan ander musikante en kunstenaars en die Woordfees om die draai en Koos Kombuis en Kaapstad ens nie?
Waar moet ons wortel skiet?
Eintlik kan ek nie wag om weer ons mooi land plat te reis en te sing vir my mense nie. Ek mis dit. Ek het ‘n behoefte om myself uit te druk. Ek doen dit al vir 18jaar met my liedjies, oral in SA, selfs Australie en NZ en amper Kanada as dit nie vir Covid 19 was nie, maar 2020 was anders. En ek is een van die wat ‘n totale verandering ondergaan het. Met hart en siel en huis.
Die kersfeesversierings begin kop uitsteek. Kan jul glo? ‘n Jaar amper verby. En almal is anders. Of jy gebly het waar jy is en of jy getrek het. Niemand is onaangeraak in 2020 nie.
Nou moet ons vorentoe kyk en wortel skiet. Positief soos in ‘n tenniswedstryd. Met ons geliefdes. In ‘n wit huis of ‘n swart huis, in die Wes-kaap of Gauteng, in Kleinmond of Somerset-Wes… en selfs seker in Australie as ‘n mens moet. Ek is net dankbaar, dat op hierdie stadium het die treklorrie vir ons nog in Suid-Afrika gestop, want ‘n vlug terug Gauteng toe is net onder die 2 ure, maar ‘n vlug oorsee neem bietjie langer en dan nog ‘n ander kultuur en taal ‘n nuwe land se reëls.
Ek gaan nou ‘n koppie tee drink en dan….dan…….gaan ek ons wendyhouse verf, blou, rooi, geel en groen. Ek wil hê dit moet lyk soos op Muizenberg se strand.
Ek glo ‘n mens maak foute. Baie foute. Ek glo ‘n mens maak besluite waar die stukke van die legkaart eers na ‘n lang ruk, wanneer jy terugkyk, sin maak, maar solank ‘n mens net die reis geniet en uit die foute leer. Waarookal jy anker gooi, sal jy wortels skiet. Soms dieper as ander kere en soms trek mens dit weer uit en beweeg aan, maar daar sal altyd ‘n stukkie van jou wortels in die grond bly…en daai wortels is herinneringe, vriende en oomblikke, ‘n wit huis, ‘n swart huis, ‘n plaashuis of ‘n suursteenhuis, vir baie selfs ‘n sinkplaathuis. Jou huis is waar jou hart is.
Die son skyn blink vandag op Kleinmond. Ek gaan nou verf. Die wendyhouse!
Sien julle gou weer!Hallo julle! Ek het bietjie lanklaas geskryf… maar hier is my nuutste Koppieteefontein vir julle! Liefde!