Funky onderbroeke en gekleurde kouse

Laas Sondagoggend word ek wakker gemaak deur my kinders wat bo-op my klim. Hulle het ‘n wekker gestel om voor my wakker te wees.

“Word wakker, pappa…dis Vadersdag.” Sê hulle opgewonde. Jy kan sien hulle het ‘n verrassing vir my. Mija, my 8 jarige dogtertjie, laat geen geleentheid verby om ‘n groot partytjie te hou nie.

Selfs op 8 jarige ouderdom sal sy my herinner dat jy die lewe moet celebrate. Dis wyse woorde vir so klein mensie. Ek weet waar sy daaraan kom… dis my vrou se idees. Dit is ‘n tradisie wat sy begin het, maar die celebrations het die laaste paar jaar hand-uit geruk.

Wanneer iemand in ons gesin verjaar… dan word die sitkamer die aand voor die tyd, met groot entoesiasme opgemaak. Daar hang balonne in die gang. Die final countdown liedjie begin speel en dan, (nog deur die slaap), stap jy in ‘n sprokieswêreld van geskenke, streamers, koeke met kersies  en jou gunsteling tert in. Dis ‘n groot storie. Jy kan nie anders as om bitter spesiaal te voel nie. China mall maak ‘n killing as iemand in ons huis verjaar. 

So, my dogtertje, Mija, het dit op haar geneem om event koordineerder te wees van elke spesiale geleentheid in ons huis. Sy beplan weke voor ‘n verjaarsdag reeds die dekor en geskenke. Sy’s opvreetbaar oulik en irriterend gelyktydig, maar sy maak almal se verjaarsdae memorable!

Die tradisie het oorgewaai na Moedersdag en Vadersdag toe. Tydens lockdown was ek nie te lus vir ‘n groot gedoente op Vadersdag nie. Om eerlik te wees wou ek eerder sulk. Ek wou net in die bed bly lê en vergeet van ‘n celebration. Die vreemde tye waarin ons leef het my dikwels om elke hoek en draai laat wonder wat ‘n vader se doel nou eintlik is.

Om verhouding te bou met jou kinders en hulle te lei om goeie mense te word, is een ding, maar in hierdie tye waar so baie mans nie weet hoe hul hul besighede gaan red nie, voel verhouding bou nie so maklik nie. Ek het besef die swaar gewig wat meeste mans op hul skouers moet dra. Dis inherent deel van ons bestaan. Ons moet sorg, finansïeel. Dit kom eerste. ‘n Huis. ‘n kar.  ‘n Vakansie eenkeer ‘n jaar. Kos en klere. Aktiwitiete.

Die lewe bestaan vir meeste mense uit twee dele… werk… en gesin. Jy spandeer meeste van jou goeie tyd om genoeg geld te verdien om jou gesin te kan onderhou. Soms is jou werk ook ‘n passie, maar soos die gesin uitbrei en die kinders word groter, word jy eendag wakker en besef jy kan nie nou slap lê nie. Jy moet nou hierdie trein aanhou steenkool voer.

Na ‘n lang dag by die werk van probleme oplos, mense organiseer en deadlines maak, is dit soms moeilik om saans tuis te kom en ‘n bundle of joy te wees. But such is life. Voor jy jou kan kry, sonder dat jy daarvoor gevra het, begin die werksplek alles oor te neem. Dit eis sy pond vleis, maar maand vir maand gaan die debietorders af. Daar is geen ander uitweg as om jouself oor te gee aan die ratrace nie. 

MAAR, toe stop die wêreld. Oornag.

Geen mens sou kon dink hoe die wêreld sou verander in ‘n kwessie van ‘n maand nie.  Skielik loop almal met maskers. Besighede staan stil, sommiges word gesluit. Almal word teruggejaag na hul krale toe. Ondenkbaar dat die wêreld so kan stop.

Die masker-dra-besigheid het ontpop, maar dit het my hele persoonlikheid amper verander. Ek was eens op ‘n tyd ‘n vriendelike ou, maar nou kan niemand meer my glimlag sien nie. My bril wasem toe. Ek kan nie sien voor my nie. Die rye om by ‘n winkel in te gaan. Die 1.5m afstand, selfs wanneer jy gereed staan om te betaal.  Alles is net so anders. My hande is al deurskynend gesanitize. By elke winkel word die wêreld se kieme van jou afgespuit. ‘n Mens moet moed bymekaar skraap om winkel toe te gaan.  En ek kyk nie meer om my nie, te bang ek staar die virus in die oë. 

Om nuwe mense te ontmoet, is buite die kwessie. Ek kan nie hoor wanneer iemand praat nie. Moes die ander dag my selfoon upgrade. Wat ‘n mission om deur maskers, 2m social distancing en ‘n perspeksbord, vir die verkoopspersoon te verduidelik wat ek van ‘n nuwe foon verlang. Ek het later net die goedkoopste gevat.

So, hier lê ek in die bed en die kinders klim bo-op my. Opgewonde oor vadersdag.

“Ek kom…” staan ek stadig uit die bed uit op, terwyl hulle al die pad in die gang gereed maak met musiek en op en af spring van opgewondenheid. Mija kan nie wag om my reaksie te sien nie. Sy beplan al twee weke lank.

Ek stap die mooi versierde sitkamer binne. ‘n Stomende koppie tee staan gereed vir my en wag. Muffins wat Mija self gebak het is netjies gegroepeer in ‘n spierwit bord. 4 toegedraaide geskenke. 4 Briefies. 4 foto’s wat elke kind vir my met Instax geprint het.

“Maak oop!” sê almal gelyk.

Ek lees die eerste briefie. Liewe Pappa… Dankie dat jy sulke goeie daddy is… jy is die enigste pappa wat ek nodig het op die aarde… dankie vir alles wat jy vir my doen!!! Ek is baie lief vir jou… Liefde Mija.

Ek kan voel my trane sit naby.

Ek maak die tweede briefie oop. Ek lees: Liewe Daddy happy father’s day. Jy is die beste pa ooit… dankie dat jy my hitting partner (tennis) is. Ek is baie lief vir jou. Liefde Jamie.

Een traan rol reeds oor my wang.

Ek maak die derde kaartjie oop. Daar is net ‘n foto van my en Mika. Hy is 4, so hy kan nog nie skryf nie.

Maar die foto steel my hart. Dis aan die begin van lockdown geneem, nog in die goeie ou dae.

‘n Tweede traan rol oor my wang.

Ek maak die vierde kaartjie oop.  Ek lees: Gelukkige Vadersdag my lam… Jy is so goeie daddy vir ons 3 kids. Ek weet wat jy als doen vir hulle en vir my! Ek wil hierdie nuwe avontuur wat voorlê saam met niemand anders aanpak as jy nie! Love you vir ewig en altyd…. Michelle

My trane rol vloeiend oor my wange soos reëndruppels.

Ek haal asem. Begin my geskenke oopmaak. Funky gekleurde kouse en onderbroeke. Rooi, blou, geel soos die kleure van ‘n reënboog. Presies wat ek nodig gehad het. Onderbroeke, maar ook ‘n reënboog.

Na die seremonie het ek vir lank nog daar op die sitkamerbank gesit, met die kinders links, regs en bo-op my soos ‘n leeu met sy welpies wat oor hom speel, muffin in die hand… koppie tee in die ander en dadelik ‘n nuwe onderbroek aangetrek, sommer bo-oor my slaapbroek vir die snaaksigheid.

Hier sou ek kon bly vir ewig. This is life.

Die onderbroeke en kouse het ek nodig gehad, ja… maar die briefies… die woorde… die opgewondenheid van my 3 kinders en my vrou dat ek hulle pa is… dis eintlik al wat ek nodig gehad het. Om te weet dat die toekoms wat nou bietjie anders lyk, ‘n avontuur vir my vrou en kinders is en dat hulle my (met briefies vanoggend verseker het) dat hulle dit saam met my sal aanpak.

EK het al so baie gedink in hierdie lockdown, maar ek het besef dat ‘n man soos ek… en ‘n man soos jou pa… en ‘n man soos jou buurman en ‘n man soos jou broer en ‘n man soos jou neef en ‘n man soos jou vriend, almal soms ook net ontsettend broos is. En tye soos hierdie is ons selfs brooser as ooit. Ons is fragile soos kristal, maar ons wil soos ‘n rots wees, wat nie breek nie. 

Ons het die briefies nodig. Ons het die woorde nodig. Ons het die versekering nodig dat no matter what… julle by ons sal wees en steeds vir ons die kouse en onderbroeke sal gee, want kouse en onderbroeke is after all…  ’n essentïele!!!

Toe ek vroeër hierdie jaar Reis na Gister gedoen het, het ons die reeks afgesluit met een van die suksesvolste besigheidsmense wat SA al ooit opgelewer het, Dr Christo Wiese… Ons het die laaste onderhoud op sy plaas in die Kalahari gedoen, terwyl die son oor die rooi duine sak. Ek het hom gevra… ‘Wat maak alles die moeite werd?”  En hy het geantwoord.  “My familie…daarsonder is ek niks.” Daardie woorde is nou my woorde ook.

Ek het ‘n spesiale boks waarin ek elke briefie bêre. Eendag as ek soveel jare soos Christo Wiese geleef het, wil ek ook êrens sit en na die see en die son kyk… en elke briefie oor die jare… weer en weer lees… in ‘n funky onderbroek met gekleurde kouse!

Maar nou eers…’n koppie tee!

Tot volgende keer.

ONLANGS

Vroeg uit die vere
Tuinmaak is nie vir sissies nie
Spaarvarkies
My huis is waar my hart is
Geel
Funky onderbroeke en gekleurde kouse
Die Groot Trek
Die geboorte van verandering
Day Zero
Dankbaar vir saamwees