Die dag voor inperking daardie nag 12uur begin het, het ek en my vrou, Michelle soos meeste mense opgesplit in twee om op te stock met spys en drank. Ek was verantwoordelik vir drank en hout en vleis en sy vir die res, alles! Dis ‘n bietjie onregverdige verdeling, maar ek is een van baie mans wat maar sukkel om te slaag met die koop van kruideniersware. Om ‘n gesin van 5 met 3 kinders onder die ouderdom van 10 jaar te voer, sit nie in enige man se broek nie. Om elke aand ‘n vuurtjie aan te steek en te braai, dit sit in meer mans se verwysingsraamwerk. Myne ook! So, op die 26e Maart het ons elkeen ons eie pad gevat en die winkel van ons keuses besoek. Dit was ‘n nagmerrie! Net om by die Centurion Lifestyle inkopiesentrum ingery te kry, was problematies. Die karre het toue gestaan. Dit het gelyk en gevoel asof dit die laaste kans gaan wees om kos en drank te koop, voor die wegraping gaan plaasvind. Ek het mooi uitgewerk, ‘n bottel rooiwyn per dag vir 21 dae. So paar bottels witwyn vir Michelle, net vir afwisseling, want sy drink meestal gin, en dan natuurlik genoeg gin met tonic ens. Dit het gelyk soos toe ek drank vir ons troue gaan koop het 12 jaar gelede. Daarna het ek gaan hout koop. Op die hoek van Ou Johannesburg en nog ‘n straat is daar altyd berge, hope hout, netjies gegroepeer, van Mopani tot braaihout. Daar aangekom was die berge hout wat drie dae gelede nog daar opgestapel was, reeds basies uitvekoop. Weg. Ek moes hier en daar ‘n paar oorskietstukke hout bymekaarmaak, maar is eventueel daar weg met omtrent 20 sakke, genoeg vir 21 dae. Ons het nog ons laaste paar draaie gery, voordat ons onsself daardie middag so teen 5 uur almal afgesonder in die huis toegesluit het.
“Kom ons speel Uno!” sê die kinders.
Goeie idee.
Ons eerste aand was heerlik. Ek het vuur gemaak, Michelle was kreatief in die kombuis met bykosse, die kinders was opgewonde oor die lang vakansie wat voorlê, die wyn was volop. Niks om oor te kla nie. Ek moet erken, die eerste 21 dae was eintlik ‘n ongelooflike tyd saam met die gesin. Nog nooit was ons so lank bymekaar nie. In die normale lewe is ek altyd oppad iewers heen. Om te vlieg of ry na ‘n konsert toe, die kinders skool toe en smiddae aktiwiteite. ‘n Normale dag vlieg tussen verantwoordelikhede en aktiwiteite en petrol ingooi en worries en domestic werkers wat kom en gaan. Maar skielik is die aarde stil. Geen verpligtinge nie. Wel nie in my beroep nie. Ek gaan nêrens heen nie. Ek het elke middag hier teen 4 uur al die vuur aangesteek. Ons het gesellig verkeer soos min, speletjies gespeel en geëet asof ek more weer geld gaan verdien. Ek het selfs ‘n liedjie geskryf 21 Dae.
Ek kon die dae sien verbygaan aan die leë bottels rooiwyn in ons wynrak. Vir die eerste 21 dae het ek selfs lekker geslaap, dalk het die wyn gehelp, maar toe kondig hulle die verlengde inperking aan.
Ons het die laaste bottel rooiwyn gedrink asof dit die duurste bottel wyn in die geskiedenis was. Stadig, met betekenis. My 4 jarige seuntjie, Mika het per ongeluk my tweede glas wyn langs die vuur omgeskop. Ek het amper geraas, maar besef, dit sal klink soos ‘n alkoholis.
Vir die eerste 21 Dae het ons bure om hul huis gedraf. Hulle het ‘n selfontwerpte gymnasium onder hul afdak gebou, maar skielik het hulle gestop. Opgehou. Mens kan ook net soveel keer en so lank om jou huis draf. Aan die begin is dit kreatief en jy doen iets om fiks te word of te bly, daarna herinner dit jou net aan hoe groot krisis die wêreld en die land beleef. Almal stop. Die drank is op. Die rokers raak mal. Die enigste manier om jouself positief te hou is om jouself te herinner dat daar mense is wat slegter af is as jy.
Ons huis is in ‘n toestand. Ons kry net nie die huis so netjies soos wat Betty dit doen nie. Ek sny die gras, maar dit lyk skeef. Ek mis vir Amos. Die kinders kry homeschooling, maar dis bitter moeilik om hulle gemotiveerd te hou. My vrou doen haar bes. Sy verander in ‘n juffrou, ‘n kwaai juffrou, want die kinders wil nie saamwerk nie. Ek help met pouses en lunch boxes. Dis ‘n nuwe lewe. Ons sukkel skielik om aan te pas.
Die eerste 2 weke van lockdown het ons nog geswem. Skielik het dit winter geword, maar hierdie winter is nie net buite nie. Hierdie winter het skielik ook in ons siele ingekruip. Sondae luister ons kerk. 10 Uur die oggend sit ons almal om ‘n selfoon. Ds Zelvin inspireer ons uit ons skoene uit. Ons kan die wêreld weer aanvat, maar teen Dinsdag is ons weer down in the dumps! Kan nie meer nie! Wil uitkom. Wil met vriende kuier. Wil Kaap toe vlieg en gaan sing, maar huidiglik is alle konserte vir die jaar gekanselleer. Dis ‘n moeilike winter wat voorlê.
Elke nou en dan maak Cyril Ramaposa ‘n nuwe aankondiging. Ek luister nie eers meer nie. Sy stem is eentonig. Ek lees maar op Netnuus wat volgende gebeur. En so gaan nog ‘n dag verby en nog ‘n dag en nog ‘n dag.
My vrou het my hare gesny. Ek lyk soos ‘n dwelmverslaafde. Sy kon dit mooi skeur langs die kante, maar bo is ‘n talent vir iemand anders wat ook nou by hul huise sit en wonder hoe hulle hul staff gaan betaal.
So…skielik verander die 21 dae se ongelooflike gesinstyd in survival of the fittest.
Sangers doen online konserte. Selfs sprekers. Ek ook. Dis okay, maar nie dieselfde nie.
Ons enigste outing is Centurion Mall toe om kos te gaan koop. Dis ‘n depressiewe omgewing. Almal dra maskers, staan ver uitmekaar uit. My bril wasem op, ek kan niks sien nie. Nie voor my nie en ook nie in die toekoms in nie!
So…wat keer dat mens nie mal word nie? Netflix? ‘n Warm bad? Nog ‘n liedjie skryf? Die huisbediende wat uiteindelik weer kom werk het? Die huisleningvakansie? Die kinders wat een dag van die week op datum is met homeschooling? Die aankondiging dat mens tussen 6-9 kan gaan stap met ‘n masker?
Ek loop na my garage/studio toe. Ek wil verf. ‘n Painting maak. Maar ek het ‘n te kort aan verf. Ek het ‘n ontsettende behoefte aan geel. Ek weet nie hoekom nie. Ek gaan deur al die blikke en buisies verf wat oral in my studio rondstaan. Ek kom af op ‘n 5l geel enamel verf. Dis nog nooit oopgemaak nie. Dis asof die Here dit daar vir my gelos het. Dis hoe ek voel oor hierdie blik geel verf. Ek maak dit oop met ‘n skroewedraaier. Dis die mooiste iets wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Goud geel verf. Dit drup van die kwas af toe ek dit roer. So wat kan ek verf? Dink ek. Ek kyk rond in my studio. Ek sien ‘n wit beeldjie. Ek begin dit geel verf. Dit lyk mooi. Wat is volgende? Houtrame wat ek vir uitstallings gebruik, dis tans swart, maar ek verf dit geel. Pragtig. ‘n Wynstaander word geel, ‘n klein speel klaviertjie. Die volgende dag maak ek geel paintings op ou canvasse. Ek besluit om die beelde in ons erf ook geel te verf, dan volg die koffietafels. Stadig maar seker word alles geel. My vrou moet net keer of ek verf haar ook geel. Ek verf my denim wat ek aanhet, geel. My denimbaadjie. Ek kan nie ophou nie. Ek verf alles geel en dit lyk mooi. Dit laat my nuut voel, selfs hoopvol.
Daardie aand lê ons in die bed en ek loer deur Instagram. Amanda Strydom post 6 selfies met die onderskrif: ‘Slightly crazy. Six pics of mild madness.’ Ek bestudeer haar foto’s. Dit ontstel my amper.
“Kyk hier!” wys ek vir my vrou langs my.
“Op die foto’s lyk dit regtig soos lockdown madness.” Sê ek.
“Die inperking vang ons almal.” Sê Michelle.
“Wat bedoel jy?”
“Jy verf alles geel!” sê sy. “Is dit normaal?”
Kom ons Google!
Daardie aand lees ek op Google dat as jy ‘n fassinasie het met geel, is jy opsoek na hoop. Opsoek na positiwiteit.
Dankie tog, dink ek. Ek het vir ‘n oomblik gedink ek het dalk die klits kwyt geraak, maar al die tyd is ek net opsoek na Hoop. Soos almal in die wêreld. Ek wil weer positief wees, maar n opregte Godgeïnspireerde positief! Ek wil soos almal weer sosiaal verkeer, my vriende besoek en my hare gaan sny. Ek wil ‘n glas rooiwyn drink in die Kaap, sonder ‘n permit! Ek is opoek na sonskyn!
Ons almal het ons ups en downs in hierdie vreemde tye. Party neem selfies, ander maak tuin, maar weet verseker dat ons in hierdie tye karakter moet bou. Ons sal moet voor begin. En as dinge te sleg raak…gaan koop ‘n blik geel verf en verf weer ‘n sonskyn oor jou lewe!
Mag die res van 2020 geel wees…en onthou gee aandag aan jouself en drink elke nou en dan…’n koppie tee!!!!
Tot volgende keer hier uit koppieteefontein!