Spaarvarkies

Hallo almal! Tyd vir ‘n koppie tee(fontein)!

Die tyd hardloop nou skielik met ‘n mens weg. Dis Augustusmaand. Soos ek hier sit en skryf voorspel hulle dat dit vandag 24 grade gaan word. Ek het nog nooit in my lewe so uitgesien na die somer nie, nie eers toe ek in Engeland gewoon het nie. ‘n Warm, wolklose, windlose somersdag is al wat ek nou nodig het, met ‘n yskoue bier, langs die see met die golwe wat klap en die seeumeeus wat baklei vir ‘n slap chip wat jy in hulle rigting gooi. (Jy kan hoor ons woon in Pretoria). Ek smag na die see! Om op die strand te loop, doer ver op my eie, weg van alles af, net my eie gedagtes wat sweef.

Ek is gereed vir pienk en wit bloeisels wat soos popcorn op perskebome in tuine sit en gras wat weer groen word na die eerste reëns in Gauteng en die Vrystaat.

Ek verlang na die geluid van sproeiers oor grasperke en lopende leivore in Parys in die Vrystaat waar ek grootgeword het. Kinders wat kaalvoet skooltoe stap en sportgronde vol ywerige skoolatlete wat oefen vir atletiek en ander sportsoorte, terwyl die son baie laat ondergaan.

Nou’s ek skielik lus vir ‘n bier shandy… yskoud by ‘n restaurant waar daar sulke lekker “blueserige” musiek speel in die agtergrond. Ek is lus om daar te sit en saam met my vrou te droom oor ‘n oorsese trip. Plekke waar ons nog nooit was nie. Vietnam of Thailand. Al het ons nooit geld daarvoor nie, beplan ons met entoesiasme die stede en vlugte en word ons opgewonde oor iets waarvoor ons nog moet spaar voordat dit kan realiseer. Dikwels realiseer dit nie, maar die beplanning en droom saam met my vrou, ‘n bier shandy en ‘n crispy chicken burger is reeds ‘n sukses. Dis ‘n gevoel van lewe! ‘n Vooruitsig.

In die begin van 2020 het ons as gesin elkeen ‘n helderkleurige spaarvarkie gekoop. 5 Plastiek varkies, pienk, groen en blou. Almal van ons moes met ‘n swart koukie bo-op sy/haar varkie skryf waarvoor elkeen wil spaar. Enige droom, al klink dit onmoontlik of onrealisties. Ek het geskryf “Australian Open 202”1(tennis). Jamie het geskryf “Roland Garros” (tennis). Ek het later toe maar myne ook verander na “Roland Garros”, aangesien hy nie alleen Frankryk toe kan gaan nie. Mija het geskryf Apple watch. Michelle het geskryf Mauritius. Mika het geskryf… Dr Stange se museum (Lego). Ons het ons varkies van blou na groen na pienk langs mekaar gesit in die kombuis, gereed om geld te spaar en ons drome te bewaarheid. Vir my en Michelle was dit moeiliker, want ons het geen tande om meer te wissel nie. Die kinders wissel kort-kort ‘n tand en sit daai getrekde tand met ‘n stukkie kaas gereed vir die tandemuis. En dis ongelooflik hoeveel die tandemuis al vir ‘n gesonde tand betaal! Elke nou en dan het ek die kleingeld in my beursie in my spaarvarkie ingedruk, maar arme Michelle se kleingeld het in melk en brood gegaan of in die Koskas, (die skool se snoepie) wanneer sy die kinders by die skool gaan haal. Die skool se snoepie is die lekkerste plek ooit. Vir my was dit ook bitter moeilik om verby daai Koskas te loop sonder om ‘n brownie te koop. Sommer twee as niemand kyk nie. Ek eet dit net daar op. Die skool se Koskas is nog een van my pre-Covid, somer herinneringe. Ek wag vir die kinders by die skool om uit te kom, gesels met van die ander ma’s oor koeikies en kalfies wat ook daar wag, dan lui die klok en Mija en Jamie kom aangehardloop, rooi wange van die somerhitte by die skool… en dan die woorde… “kan ons Koskas toe gaan!?”

“Ja!!! Natuurlik!! Ek dog julle vra nooit nie!” het ek altyd met die grootste vreugde geantwoord en al my geld wat ek in my varkie sou kon spaar, daar spandeer op Slush Puppies en brownies… Dis fantasties… lekker… maar ook ‘n oomblik met die kinders wat ek altyd sal onthou as hul eendag groot is. Seker ongesond al die suiker, maar tog, die herinneringe… die gevoel van somer.

Huistoegaantyd.

Ja.

So, ons besef nie wat alles van ons af weggeneem is a.g.v Covid 19 nie. Almal praat heeltyd van die NUWE normaal, ek wens net partykeer dat ons tyd gehad het om die Ou normaal te groet. Dit soos om iemand aan die dood af te staan.

‘n Mens moet tog kan rou.

So, gister besluit ek ek gaan my spaarvarkie oopbreek, aangesien die Ausie Open nie ‘n realiteit is in die NUWE normaal nie.

Ek vat ‘n broodmes en sny dit oop. Ek gooi die geld uit. Skud die blou varkie sodat die paar note en sente moet uitval. Daar lê my hele jaar se savings voor my op die kombuis tafel. Ek begin tel. Groepeer die verskillende geldstukke.

Hoeveel? Vra my dogtertjie.

R380 en 35 sent.

Dis maar min…sê sy.

Vir ‘n oomblik is ek stil.

Daar lê die bewyse van Covid 19 reg voor my.

R380 en 35 sent.

Niks gespaar nie, en ook niks verdien nie.

En dis die storie van miljoene mense. Ook julle wat dalk nou hier lees. Gelukkig vir die wat wel in hulle reserwes en huispaaimente kon grou, maar hoe begin mens nou weer alles van voor af? Dit neem vir meeste mense jare lank om ‘n huis af te betaal. Niemand wil lank voor die tyd die spaarvarkies van hul aftrede oopbreek nie.

Dit neem tyd om genoeg spaarvarke vet te voer, sodat mens eendag kan uitree of afskaal of rustiger raak en as jy jou lewe gededicate het aan jou loopbaan en hard gewerk het met die oog op eendag, verdien jy dit tog? Baie mense wag tot hul aftrede om eers die wêreld te gaan verken en te toer. Dan het hul tyd… en hopenlik geld. Ek is nie altyd so seker of ek gaan oud word nie, daarom probeer ek maar reis so tussen deur die chaos van die 20’s, 30’s, 40’s. Ek is te bang ek sterf vroeg en het nooit die wêreld gesien nie.

Ek kyk na my spaarvarkie. Hy’s stukkend. Skielik is dit vir my ‘n hartseer gesig. ‘n Spaarvarkie is net ‘n spaarvarkie as sy geldjies veilig in sy magie wag vir eendag se droom. Nou is hy oopgebreek en leeg. Ek vat die swart koukie en skryf 2020 oor sy rug.

Die kinders besluit toe om hul varkies ook oop te breek.

Mija het tussen tandewissellary, verjaarsdag en sakgeld darem by R600 uitgekom.

Jamie is die besigheidsbrein in die huis… sy varkie het ‘n R1600 gespaar. Mika se varkie het net coins gehad, met so een of twee note. Hy moet nog tande wissel, maar hy het op en af gespring van opgewondenheid oor die klomp sente wat op die ou ent minder as R200 was. Vir hom was dit baie. Is dit nie simbolies van die wêreld nie, dink ek by myself. Wat vir paty mense baie of genoeg is, is vir ander ‘n ondergang.

Jamie het sy note netjies in sy beursie gebêre.

“Kyk hoe dik is my beursie van die geld, Pappa.” Wys hy met die trotste glimlag ooit.

En daar staan ons huisgesin se spaarvarkies in ‘n ry… terwyl ek voel hoe my eie varkies in my kop bietjie rondhol!

Later daardie nag gedurende my slapelose ure, het ek weer aan alles gedink. Hoe baie mense weer die stukke moet optel, na hierdie vreeslike ding wat die wêreld getref het. Covid 19. Hoeveel mense moet hul lewens se spaarvarkies nou oopbreek. Hoeveel mense moet weer van vooraf begin. Hoe tel mens die stukke weer op?

Hoe lank gaan dit neem voordat die spaarvarkies weer vol is en die drome van ‘n somervakansie weer ‘n realiteit word of ‘n nuwe fiets of ‘n afbetaalde huis.

Die somer is in die lig. Dis tyd om weer op ons voete te probeer land. Hoe weet ek nie. Al wat ek weet is daar’s miljoene mense in dieselfde posisie en almal in verskillende levels.

Oor 5 jaar sal ons seker terugkyk en weet ons het karakter gebou. Ons is hopenlik sterker mense ander kant uit. Dalk leer dit ons dat aardse besittings nie vir ons so belangrik moet wees nie. Dit leer ons die waarde van vriendskap en familie. Dit toets ons verhouding en geloof in God. Dit leer my hoe dankbaar ek is dat ek gesond is, want as ek gesond is, kan ek weer begin.

Twee jaar gelede het die bure oorkant ons se huis afgebrand. Alles was vernietig. Dit was traumaties vir die hele straat. Die bure het net hul hond gered, verder was alles weg in vlamme, van motors tot selfone…. Ek het daardie aand ‘n liedjie geskryf met die titel “Wie’s ek met niks?” Is dit moontlik om myself daardie vraag te vra… en is dit enigsins moontlik om dit te antwoord. Wie is ek met niks?

So, dis 24 grade buite. Ek verwelkom die somer met ope arms. Ek weet daar gaan nog ‘n paar drastiese veranderinge in my (ons) lewe plaasvind in die volgende paar maande om weer op ons voete te kom, maar ek het ‘n gevoel in my hart, dat die lentebloeiesels my gaan inspireer en nuwe hoop sal gee… en ek weet dat God steeds in beheer is en dat ‘n mens wel OOR kan begin as jy moet… en dat ons sterker hier sal uitkom en sal kan sê… we live to tell the story.

Ons is almal tog net mense.

Maar nou… eers vir ‘n koppie tee…. buite in die son!!!!!

Tot ‘n volgende keer! Dankie dat julle die gedagtes deel met ander!

Jak de priester

P.S Ek stuur vir julle die liedjie saam ‘Wie’s ek met niks’

ONLANGS

Vroeg uit die vere
Tuinmaak is nie vir sissies nie
Spaarvarkies
My huis is waar my hart is
Geel
Funky onderbroeke en gekleurde kouse
Die Groot Trek
Die geboorte van verandering
Day Zero
Dankbaar vir saamwees