Tuinmaak is nie vir sissies nie

Ek weet nie of ek voor die 26 ste Maart 2020, al ooit die woord “grendeltyd” gebruik het nie.

“Grendeltyd”

Dis ‘n mooi Afrikaanse woord, met ‘n uitmergelende betekenis. Ek probeer my bes, maar elke nou en dan wil ek losbreek. Ek wil vlug. Ek wil gil, maar die bure sal my hoor. Soms is die kinders so stout, ek wil ontplof, maar ek kan nie… die bure sal wonder of hier huismoles is. So, ek onderdruk my gevoelens en hoop dit lei nie tot ‘n hartaanval nie. Ek verf maar alles geel en hoop vir die beste.

Vroeër in my lewe het ek al gefantaseer oor ‘n “sabbatical”.

Dit klink soos iets wat net baie ryk mense kan doen.  Hoe ongelooflik moet dit wees om vir ‘n tyd lank af te vat… sonder worries. Aspris. Weer nuwe perspektief te kry oor die lewe en dan jou loopbaan met nuwe passie te hervat en weer uit te sien na die laaste paar jaar voordat jy omkap. Dis nie dieselfde as ‘n midlife-krisis nie, geen jong poppies  nie… nee, jy vat net ‘n breuk, haal net ‘n slag diep asem (vir 6 maande tot’n jaar) en dit doen mens gewoonlik deur te gaan travel in Europa of te gaan lê op ‘n eiland of ‘n boek te skryf in die sneeu êrens in ‘n bergvilla of in ‘n klein huisie by die see, terwyl die golwe klap teen die rotse met die geluid van seeumeeus in die verte.

Ek het nooit gedink my sabbatical gaan onverwags en onbepland en ongevraagd aanbreek nie. Net toe 2020 op spoed is. Sonder ‘n reisplan oorsee of genoeg geld gespaar om jouself te gaan vind êrens of ‘n tema vir jou debuutroman.

Nee jong, sommer net so, sonder rede. “Grendeltyd.” ‘n noodgedwonge, afgeforseerde sabbatical aangekondig deur President Ramaposa en met Jan Tuisbly se karretjie gaan ry.

Ons woon in Hennopspark, Centurion. Ek wonder baie keer by myself… hoe het ons hier geland? Daar is niks fout met Centurion nie, hier is alles wat jy nodig het en nog meer, maar van alle plekke in die wêreld, hoe het dit gebeur dat ons hier woon?  Grendeltyd het die kwessie weer opgebring, gereeld.  Natuurlik is daar is ‘n logiese verhaal, van my vrou wat hier grootgeword het en so het ek ook hier beland en nou is ons pens en pootjies met drie kinders, twee honde, twee voëls en nog meer binne in ‘n Centurion suburb. Ek sê weer… daar is niks fout met Centurion nie, maar van alle plekke op aarde. 

Die Grendeltyd het my laat dink. Is ek waar ek moet wees in my lewe? Woon ons in Centurion oordat ons moet of is dit my keuse om hier te woon?

In my ou lewe (pre-grendeltyd) was ek ‘n jetsetter. Dan hier, dan daar. ‘n Rondreisende sanger. Ek het altyd verlang om huistoe te kom. Centurion toe. Eintlik na Michelle en die kinders toe. Wanneer ‘n mens van dorp tot dorp ry, is dit fantasties om tuis te kom, maak nie saak waar tuiskoms is nie. Jy verlang ‘n bietjie “grendeltyd” met jou gesin, maar oormore is ek weer op die Gautrein oppad lughawe toe of in die motor oppad Nelspruit toe. Altyd oppad iewers heen, maar altyd so gou as moontlik weer terug huistoe.

Vir die afgelope 70 dae is ek net hier. In Hennopspark, Centurion. Geen konserte waar ek mense kan inspireer met musiek en woorde nie. Geen kontak met ‘n gehoor op die platteland om hulle te oortuig die lewe is ‘n lied nie. Niks nie. Ek het boeie aan. Grendeltyd. Doelloos. Dis net my gedagtes…hulle travel die hele wêreld vol…soms ook in die gutter in.

Ek het nog nooit so baie aangebied om kruideniersware te gaan koop nie. Net om uit die huis te kom vir ‘n oomblik en seker te maak daar is nog ‘n lewe daarbuite.  Dan sit ek my masker op, klim in my motor en ry Centurion Mall toe.

Êrens tussen ons huis en die mall ry ek onderdeur ‘n bruggie met die hoofweg wat bo-oor loop. Gedurende die somer seisoen is die bruggie gereeld gesluit weens verspoelings. Altyd wanneer ek daar ry is daar aktiwiteite onder die brug. Soms woon daar ‘n paar jong hawelose ouens met honde. Mense het in die verlede al matrasse vir hulle afgelaai. Toe lê hul vir ten miste ‘n maand rustig op hul matrasse, met selfone en honde asof daar nie ‘n dag van more is nie. Geen bekommernisse in die lewe nie.  Ek kry altyd die honde so jammer. Hulle kan nie hul lot kies nie. Hulle kan nêrens heen gaan nie, moet daar lê saam met hul hawelose eienaars. ‘n Hond luister vir sy baas. Hy verwag niks nie, nie eers ‘n dak oor sy kop nie.

Met die onlangse oorstromings in Centurion het die brug basies weggespoel en so ook die hawelose hotel. Dit lyk tans soos ‘n oorloggeteisterde gebied. Stukkend. Rommel. Lang gras en bosse. Elke keer wanneer ek ‘n outing maak Centurion Mall toe, bekyk ek die wêreld en sonder dat ek wil, pop die vraag in my kop op… is hier waar ek moet wees in die lewe?

Daar vee ‘n man die pad skoon elke dag… vir ‘n fooitjie, maar tervergeefs. Jy’t ‘n army nodig om ‘n verkil te maak, dink ek. Om hierdie brug n vrolike voorkoms te gee, sit nie in een man se broek nie.

Eendag ry ek weer gemasker daar verby, oppad Mall toe vir ‘n sakkie kruideniersware. Langs die verkeerslig wat plat op die grond lê (want selfs die verkeerslig is moeg) het die man ‘n klein blombedding op die sypaadjie begin maak. Vetplantjies, blommetjies, plantjies… te netjies. Ek het eers nie geweet wat om te dink van die poging tot iets moois nie, maar elke keer wanneer ek daar verby ry, lyk die tuintjie beter en groter. Na ‘n week was daar skielik iets, besef ek. Ek kyk na die man wat sorgvuldig die plantjies versorg, net daar tussen al die gemors. Hy het begin om ‘n stukkie aarde mooier te maak. Vir wie? Vir wat? Gee iemand ooit om of is dit net ‘n manier om die verbygaande verkeer te oortuig om ‘n geldjie te gee? het ek gewonder. Elke keer oppad Mall toe kon ek nie wag om te sien hoe die tuintjie vorder nie. Elke keer ‘n bietjie groter en mooier en gekleurde blommetjies wat trots in die bietjie sonskyn blom.

Tussen ons huis en die Centurion Mall glimlag ek net eenkeer en dis wanneer ek verby sy tuintjie ry, die res van die pad besin ek oor die einde van die wêreld en hoekom ons so ver van die see af woon.

By die huis aangekom eendag, vertel ek my vrou van die man se tuin. Ja, sê sy… ek het dit gesien… ek dink dis wonderlik. 

Ek wil ook so wees, sê ek vir haar.

Tuinmaak? Vra sy.

Ja, miskien moet ek begin tuin maak?

Jy maak tuin… sê sy.

Ek verstaan glad nie wat sy bedoel nie, want die tweekeer wat ek tydens grendeltyd al noodgedwonge die gras probeer sny het, was ‘n show op sy eie en dit net om te keer dat die kragkabel nie onder die lem beland nie.

Wat bedoel jy?

Sy vat my hand.

Jy maak ook tuin in mense se lewens soos die man onder die brug, jy doen dit net op ander maniere. Stel sy my gerus.

Soos hoe? wil ek weet

.

Met liedjies en woorde en stories.  Dis soos om ‘n tuintjie te maak vir mense om na te kyk en te geniet.

Dit klink pragtig, sê ek, maar vir 70 dae lank is my tuinmaak met liedjies en stories, reeds in sy glorie in. Geen konsert, geen damesoggend, geen niks… net grendeltyd. My lewe het tot niks gekom nie, kla ek verder. Betekenisloos. Dood soos ‘n kliptuin.

Dink jy die wêreld gaan weer normaal word? vra ek.

Gaan ek ooit weer kan gaan sing vir ‘n lewe? vra ek onseker.

Dalk. Antwoord Michelle.

Intussen moet jy op ‘n ander manier tuinmaak in mense se lewens.

Hoe? Sonder ‘n mikrofoon…sonder ‘n verhoog? Sonder ‘n show?

Ja sê sy. Jy maak tuin vir ons. Jy is hier. Jy maak vir Amos ‘n warm hotdog wat hy kan eet oppad Diepsloot toe, na ‘n harde dag se werk om ons tuin reg te ruk. En jy bel vir Rika wat al vir 70 dae stoksielalleen is tydens grendeltyd. En jy gee van jou warm truie wat jy nie meer dra nie, vir iemand op die straat wat dit nodig het. En jy vertel vir die kinders stories voordat hul gaan slaap. En jy vleg jou dogtertjie se hare en swaai jou kinders in die rondte. En jy maak vir my tee, ten minste 5 keer per dag. En jy bel vriende en hoor of hul okey is. So maak jy tuin in ander mense se lewens. Jy’t nie altyd ‘n show nodig om dit te doen nie.

Jy gaan dalk weer eendag vir mense sing, maar moenie dink jou lewe is niks werd sonder ‘n show nie. Dis juis wie jy is sonder ‘n show (of ‘n werk of geld), wat ‘n mens karakter gee. Jy moet die show maak…die show moet nie JOU maak nie.

Elke dag word die man onder die brug se tuin net al hoe mooier. Ek hoop nie hy gee op nie. Hy ken my nie, maar hy gee my elke dag iets om oor te dink.

 Wel…hy en my vrou se woorde. Ek kan ook tuinmaak. Elke dag van my lewe.  En al is dit nie met blomme en vetplantjies nie, is dit dalk met menslikheid. Dalk met vriendelikheid. Met liefde. Dalk met vrygewigheid. Dalk met ‘n luisterende oor. Dalk ‘n onverwagse oproep na ‘n vriend. Dalk ‘n warm worsbroodjie vir die tuinman om te geniet oppad huistoe met die voet. Dalk ‘n dag afgee vir ons bediende, sodat sy ook by haar kinders kan wees in tye van nood en haar steeds betaal. Dalk net om in general ‘n nice mens te wees. Sonder ‘n show.

So, my sabbatical is ‘n absolute flop. Ek is nie besig om te backpack in Europa nie en ek sit nie in Kleinmond langs die see en skryf ‘n roman nie en ek lê nie op Zanzibar se strand met geld in die bank nie, nee, ek is hier in Centurion  sonder ‘n show.

Dis… Grendeltyd! Maar dis tuinmaaktyd…

Ek dink… dis tyd vir ‘n koppie tee!!!

Tot volgende keer!

ONLANGS

Vroeg uit die vere
Tuinmaak is nie vir sissies nie
Spaarvarkies
My huis is waar my hart is
Geel
Funky onderbroeke en gekleurde kouse
Die Groot Trek
Die geboorte van verandering
Day Zero
Dankbaar vir saamwees